Thursday, July 31, 2014

Die stem van Taegrin roep tot ons.

Die grusame dood van die vierjarige Taegrin Morris het ons almal se harte geruk. Ek wil nou nie eers praat van die verkragting van kinders hier in ons land, of van kinders wat in geweldadige konflikte kanonvleis word nie. Madiba het op ’n stadium by die loodsing van sy Nelson Mandela Kinderfonds in 1996 gesê, dat die mees tasbare wyse waarop iets van ons siele sigbaar word, is die wyse waarop ons kinders hanteer en dat, soos wat ons ‘n nuwe Suid Afrika bou, kinders een van ons hoogste prioriteite moet wees. Dis duidelik – die nuwe Suid Afrika waarvan hy hier praat en droom, bestaan nie vir die Morris familie of die gemeenskap van Reigerpark nie. Kinders se lewens is goedkoop.



’n Diep, geestelike vraag is indaad: hoe ernstig is ons oor die veiligheid en ontwikkeling van ons kinders? Dit lyk soms vir my asof sommige mense kinders bloot sien as die passiewe voorwerpe van vermaak. Dit klink seker baie verskriklik. An tog, kyk maar net hoe hulle rondgedra en gewys word, byna as ons trofees, of ons hou hulle bloot besig of “van die strate af”. Geloofsgroepe, wat so dink, ontwikkel dan ook programme om die kinders met ’n paar Bybelversies te “red”. Wat die groepe eintlik wil doen, is bloot om die kinders te gebruik om hul eie ego’s te streel. Die werklikheid is egter baie meer kompleks.

As mens egter Madiba se hele toespraak lees dan kom mens agter dat sy perspektief gaan van die veronderstelling uit dat die mishandeling van kinders ’n langer pad aankom. Die kaper wat harteloos wegjaag en die seuntjie saamsleep, is op ’n bepaalde manier gevorm in ’n wêreld waar kinders weggooibaar word. Reeds in 1989 identifiseer die verslag van die tweede Carnegie ondersoek na armoede en ontwikkeling in Suider-Afrika, kinders as een van die kategorieë van mense wat die mees kwesbaar is in die streek. Die navorsers praat dan van die “wasting of children” [vernieling of verwoesting van kinders]. Vir hulle ook, moet kinders die primêre teikengroep wees in alle ontwikkelingsstrategieë. Hoe vêr het ons as land gekom in hierdie geestelike roeping? Is dit genoeg vir die kinders in gemeenskappe soos Reigerpark se beveiliging en ontwikkeling, dat politici bloot op feesdae (of krisistye) opdaag, toesprake afsteek en danspassies uitvoer? Ek dink egter dit gaan eerder oor die harde en soms frustrerende werk deur die skep van volhoubare inkomste vir ouers, die erkenning en ondersteuning van hul kapasiteit om hul eie keuses te maak, maar ook, die erkenning van die waardigheid van ons kinders, in alle gemeenskappe.

Ons kan egter nie vir die regering wag nie. Ouers, opvoeders, leerders, geloofsgemeenskappe, alle professies, selfs sporthelde en vermaaklikheidsterre kan hande vat om ons gemeenskappe nie bloot kinderveilig te maak nie, maar ook kindervriendelik. In die opsig word kinders deel van ons drome oor ’n heel en geseënde Suid Afrika. Is dit nie ’n ander lees van die Bybel wat ons oë oopmaak dat kinders gesien kan word as ‘n teken van seën, dat hulle die gemeenskap kan leer, maar ook, dat hulle die goddelike teenwoordigheid hier in die wêreld ’n werklikheid kan maak. Hoe ons kinders hanteer sê dus beslis iets van ons siele.

Kindervriendelike dorpe en stede verg egter moed, maar dit verg ook verbeeling. Dit vra moed om die kind tussen ons te laat staan en die fokus te maak van ons politiek, ons ekonomie en ons gemeenskapslewe. Dit verg ’n prysgawe van mag wat gebaseer is op fisieke geweld of manipulasie. Dit vra ook verbeelding. Ons droom weer oor huise waar kinders lag en speel; van strate en parkies waar ons tot laat in die nag kuier; van stemmetjies wat ons harte weer warm maak om ’n verskil te maak. 
('n Geredigeerde weergawe van hierdie post is in Die Beeld van 30 Julie 2014, gepubliseer-RWN)
Post a Comment

Musings.....