Tuesday, February 23, 2010

Koelkop Wenners is diep gewortel (uncut)

My artikel geplaas in gister se Beeld, is bietjie gesny en die titel was bietjie anders, so hier's die rou, uncut version.
'Dis met ‘n trotse hart dat ek kyk hoe Hashim Amla, koelkop die een Indiese aanval na die ander afweer. Daar staan hy, omring met duisende krieketmal toeskouers wat roep om sy paaltjie, vyf of ses veldwerkers, intimiderend om sy kolf en ‘n wêreld-klas bouler wat wat hom aangluur, uitlok en probeer uitoorlê. Wat gaan in sy koelkop aan? Hierdie onverskrokke Suid Afrikaanse held.
‘n Mens kry een leidraad as jy meer intens kyk, na sy klere. Daar is ‘n verskil tussen sy uitrusting en die van sy spanmaats. Hashim het dit duidelik gemaak dat hy geen handelsmerke van alkoholiese dranke op hom sal dra nie. Hierdie tekens is teen sy geloof. My tienerdogter merk op: dis ‘cool’. Nee, korrigeer sy haarself, dis prysenswaardig dat hy so standpunt inneem vir wat hy glo. Inderdaad. Of ons nou met hom saamstem of nie, hy laat ons dieper kyk. Hierdie jong man, ‘n uitstekende sportman, trotse Suid-Afrikaner, word ten diepste gevorm deur dit wat binne sy hart aangaan.
Sportsielkundiges wat met die elite sportspersoonlikhede werk, is dit eens, op internasionale vlak is die verskil tussen atlete, in terme van talent, vaardighede en liggaamskondisie minimaal. Die groot verskil tussen wenners en verloorders is dieper, dis in die hart. Dis hier waar bepaal word hoe ons koppe werk; hoe ons reageer op ‘n verwoestende aanval, ‘n groot terugslag in die spel, of op hartverskeurdende teleurstellings. Dis hier waar die wenners koelkop bly en besluit om hulself te herinner aan hul vermoëns en waar hul energie en aandag gekonsentreer word op die dinge wat saakmaak. Hulle is in die ‘zone’. Uiteraard kom sommiges by die punt deur diep grawe in hul geloof, ander in hul nasietrots, of dalk ‘n moeder se opoffering wat hulle inspireer. Hulle vind dit in hul hart.
As land en gemeenskappe word ons almal telkens gedwing om keuses te maak oor hoe ons reageer op wat om ons gebeur. Die onlangse verkragting van ‘n diep gelowige suster het ons weereens laat steier. Voeg hierby die roekelose lewenstyl en optredes van ons president en ander hoë profiel persoonlikhede, maar meer nog, die verleentheid van die 20 jaar euforie, wat wys dat ons nie te suksesvol is in ons stryd teen rassisme, ongelykheid en geweld nie, kan maak dat ons kop verloor. Miskien dwing dit ons dieper kyk en onsself herinner aan die hart van ons menslike bestaan en om ons aandag fokus op die dinge wat saakmaak. Miskien dwing dit ons om dieper te kyk as die bekende handelsmerke, die tekens wat baie keer bepaal watter waarde ons heg aan die wat dit dra.
Vir gelowiges gaan dit daaroor dat ons, ten diepste nie aan onsself behoort nie en daarom nie bloot vir onsself lewe nie. Immers, as Christene glo ons dat ons ten volle, in lewe en in dood, aan Jesus Christus behoort. Ons bely dan ook dan Hy ons loskoop van slawerny uit sonde, ten einde as vry mense te leef. Ons bely, dat Hy sy skepping verder versorg en ‘n toekoms gee. Dit volg dus dat ons sin het vir die lewe en daagliks besluit om vrywillig vir Hom lewe.
Dis hierdie diepe sinvolheid wat maak dat ons koppe anders werk. Ons sien ons hierwees as ‘n roeping, ‘n lewe waar ons hierdie wed-stryd om vryheid vir almal, asook om die versorging van die hele skepping, te dien. Ons besluit om ons hier te vestig en kreatief om te gaan deur nuwe tekens van hoop te skep, maar ook om by tye onsself te verset teen die tekens wat teen God se droom woed.
Dis nie ‘n maklike keuse nie. Om hierdie rede staan baie stomverbaas as ‘n ander jong Suid-Afrikaanse held, ondanks haar brutale verkragting, opstaan en besluit dat sy wel die volgende naweek die Midmar-myl gaan swem. Of waar ‘n jong opkomende geestelike leier, met ‘n groot toekoms in die Verenigde State, homself tot Suid-Afrika bekeer en huistoe kom, om ‘n versoenende kleipot gemeente te bou, waar wit en swart mekaar opsoek en leer ken. Dit is waar ons harte, geloofsharte, ons koelkop maak, herinner aan God se vermoens en waar ons energie en aandag gekonsentreer word op die dinge wat saak maak. Dit is hier waar ‘n wenspan gebore word.
Hashim is sekerlik bewus daarvan dat êrens in die toekoms hy weer ‘n nulletjie gaan aanteken of ‘n bal sal misvang. Daar sal weer tye kom waar hy gaan faal en uiteindelik uitree uit krieket. Baie van ons sal dalk sy kolfbeurt op Eden Gardens vergeet. Maar daar sal nuwe name, nuwe helde, nuwe tekens wat ons herinner daaraan dat dit uiteindelik Godself is wat die wenner is en van ons wenners maak.'

Post a Comment

Musings.....