Thursday, August 20, 2009

"Auntie Vicky" se dieper vrae

Ek het onlangs grepe uit die interessante storie van “auntie Vicky” Jardine gelees. Wel, eintlik het die boek van die bekroonde skrywer Chris van Wyk nie oor haar gegaan nie, maar oor haar seun. Sy was egter ook daar, deel van die storie. ’n Gewone huisvrou wat in Johannesburg in ’n klerefabriek gewerk het.

Wat egter opval, is dat dié merkwaardige vrou by verskeie geleenthede ernstig gebots het met die owerheid. Sy het openlik gestry teen apartheid. Trouens, in haar huis is ’n besprekingsgroep van vroue begin. Dié groep het ’n rol gespeel in duisende vroue se opmars na die Uniegebou – destyds vir vroueregte. Die staaltjie word ook vertel hoedat sy in ’n stadium met geweld weggesleep is van die Johannesburgse stadsaal in haar stryd vir gelykheid en die reg.

Wat is die erfenis van “auntie Vicky” se stryd vir vandag? Op die oog af is daar is nie veel oor nie.

Luister maar na die manier waarop jong mans neerhalend praat oor vroue, of kyk maar na ons skokkende verkragtingsyfers. As ons egter dieper kyk, merk ons op dat dié onthutsende verskynsels simptome is. Dieper skuil daar ’n manier van dink en handel wat die waardigheid van mense skend en wat telkens op nuwe maniere kop uitsteek. Waarom kan ons dan nog nie ’n verskil sien nie?

Kom laat ons nou eerlik wees.

Die meeste van ons het gehoop dat bloot ’n meer verteenwoordigende regering, met die insluiting van swart mense, die land onherkenbaar sou verander na ’n wonderlike paradys vir almal: Vroue, kinders, swart, bruin, wit, gays en lesbiërs. ’n Hemel op aarde. Ons het gedink dat die dag toe almal geduldig in rye gestaan het vir ’n kans om ’n kruisie te trek, die demone van rassisme, geslagsdiskriminasie, maar ook die ongelyke verdeling van rykdom, uiteindelik uitgewis is. Mettertyd kom ons agter dinge lyk maar dieselfde; ons herken dieselfde gesigte, dieselfde gedragspatrone – met dieselfde wrang gevolge. Waar “auntie Vicky” en die vroue hand aan hand opgestaan het vir ’n beter toekoms vir hul kinders, waar hulle gehoop en gestry het vir ’n nuwe land, wonder ons al hoe meer of daar diep genoeg gekyk is, of daar diep genoeg gesny is, of daar werklik na hulle geluister is.

As ons kyk na die diep woede in gemeenskappe oor die ooglopende materialisme en magsmisbruik onder ons regeringslui, moet ons weer vra: Is ons regering ernstig genoeg oor die waardes van gelykheid en geregtigheid? Ons vra vrae waar besope geregsdienaars hul voertuie bestuur en probeer wegjaag wanneer hulle uitgevang word. Ons vra vrae vra as openbare instellings gebruik word om ons terug te neem na die ou verlede van knoeiery, verdrukking en geweld, waar mense op die kleur van hul vel getakseer word. Die verandering van gesigte in die sagte parlementsbanke was duidelik nie genoeg nie.

Wat moes ons gehoor het? Wat het hierdie onbekende vroue-profete aangevuur en ander profete, soos die vervolgde Birmese vryheidsleier Aung San Suu Kyi, om die dieper vrae te vra en ons verder te neem na die omverwerp van verdrukkende stelsels? Ek vermoed dat daar vele antwoorde op hierdie vraag is. Vir my staan daar twee uit. Eerstens is daar by hulle die onwrikbare begrip dat mense, wie ook, ten diepste gelyk is, dat hulle beelddraers van God is en daarom met ’n inherente waardigheid beklee is. Tweedens is daar die geloof dat God gewone mense gebruik om ’n verskil in die wêreld te maak.

Die geloof wat aan sekere klasse in ons samelewing meer mag en eer toeken, word ontmasker.

Ook vandag is daar nuwe “auntie Vickys”. Hulle is deel van massas wat die strate vat en dié in magsposisies op hul tone hou. Hul stemme word gehoor wanneer hulle die stilte verbreek in die intieme ruimtes, maar ook by die werkplek. Hulle vra dieper vrae, ongemaklike vrae wanneer ons ons aandadigheid aan verknegtende stelsels probeer verdoesel in mooi, groot óf selfs godsdienstige woorde.

(Verskyn in Die Beeld 17 Aug 2009)
Post a Comment

Musings.....