Sunday, July 19, 2009

Jonathan Jansen belowe een jaar van transformasie by Kovsies

Ek moet erken, ek is nie 'n Jonathan Jansen 'fan' nie. Ek het hom by verskeie geleenthede ervaar as bombasties en arrogant. Sy onlangse grootse belofte, dat ons Kovsies, oor 'n jaar nie sal herken nie, kan dalk teen die agtergrond verstaan word. Daar is egter meer aan Jansen. En miskien is dit hier waar my hoop lê. Hy is nie bang vir 'n uitdaging nie en sy assosiasie met Kovsies spreek daarvan. Miskien is dit juis wat nodig is vir 'n 'Vry'-staat.

Baie 'Black consciousness insiders' of selfs 'Charterists' wonder soms in die binnekringe, waar Prof Jansen sy sg 'struggle-credentials' vandaan gekry het. Miskien beskou hy homself selfs as 'n 'exile', aangesien hy in die buiteland was toe die land gebrand het. Miskien maak dit nie saak nie. Wat bo twyfel is, hier en in die buiteland, is die feit dat hy homself akademies en in sy bestuur by Tukkies, onderskei het as 'n opvoedkundige wat respek verdien. Hyself, dink ek, sou selfs 'n goeie saak daarvoor wou uitmaak dat die obsessie met 'struggle-credentials', juis een van die grootste struikelblokke is vir akademiese prestasie. Oor hierdie kwessie sal ek nou nou ingaan nie. Wat wel belangrik is, is dat Prof Jansen, 'n uitnemende akademikus, 'n besondere stuk geskiedenis en daarom invalshoek bring in die landskap van akademiese leierskap, in die Vrystaat en in die land.

Kovsies, word meer en meer gesien, as 'n sleutel tersiêre instelling, vir studente, uit die sentrale provinsies, asook die Noord-Kaap en ek sou dink, Namibië. Die besondere ontwikkelingsvraagstukke, die unieke uitdagings vir fundamentele transformasie daar, sou kritiese aandag, in die instelling verg. Dit sou selfs 'n nis vir Kovsies vestig, vir nasionale en internasionale belangstelling. Die gewraakte tragiese voorval verlede jaar, het egter die mislukte pogings tot transformasie, deur die bestaande bestuur, kru aan die wêreld bekendgestel. Dit was jammer, maar was dalk nodig om juis uit te wys dat nie enige vorm van transformasie vir ons sal help nie. Prosesse van transformasie, asook die voorveronderstellings en vertrekpunte moet gewoon ook onder die loep bly. Miskien is dit juis die unieke wat Jansen tot hierdie uitdaging bring, miskien is dit juis in sy persoon en geskiedenis dat hy sy belofte gestand kan doen.

Dit sou, na my oordeel dus wys wees om die ontwikkelings by Kovsies fyn dop te hou. Op verskeie ander tradisioneel Afrikaner instellings, was daar ook groot beloftes en waagmoedige aanstellings en prosesse. Nie almal wat transformasie en verandering praat, praat dieselfde taal nie, en het dieselfde uitkoms in die oog nie. Ek wil egter waag om Prof Jansen my mosie van vertroue te gee, vir nou.... Miskien moet ons weer oor 'n jaar gesels... maar onthou net asseblief dit: ek is nie en sal ook nie dan goeie 'fan' materiaal wees nie.
Post a Comment

Musings.....