Friday, March 28, 2008

Bruin, Swart en Indiers moet ook nou jammer sê oor apartheid.


Ek reageer graag op Ferdie Greyling se artikel, 'Kollapen moet ook jammer sê, gerig aan Jody Kollapen, voorsitter van die Menseregtekommissie. Miskien moet Kollapen self antwoord, maar ek vermoed Ferdie se boodskap is aan alle swartmense, bruin mense en ander van Indiese agtergrond, kollektief genoem, die swartes. Eintlik poog hy om die kwessie rondom die ongeregtigheid van die verlede op te los, deur almal skuldig te verklaar en sodoende witmense van alle blaam te onthef (ten minste van die verantwoordelikheid om verskoning te vra).

Nou is ek nie seker of Ferdie moedswillig is en of hy doodeenvoudig sukkel om sy mening te lug nie. Hy is uiteraard korrek oor die kwessie van kollektiewe skuld, maar hy verswyg (moedswillig?) dat agter apartheid, wat hy 'rasgedrewe fascisme' noem, die onregmatige bevoordeling van witmense, geskuil het. Greyling verduidelik, 'Omdat adv. John Vorster wit was en hy apartheid uitgebou en in stand gehou het en ek wit is, is Vorster se skuld nou ook my skuld.' Nee, Ferdie dis nie so eenvoudig nie. Omdat jy wit is, het jy voordeel getrek uit Vorster en ander se beleid. Daarom word daar in menige gesprekke en literatuur, die onderskeid gemaak tussen die oortreder ('perpetrator') en die bevoordeelde('beneficiary'), tussen die sistemiese geweld en die persoonlike, waar swartwees, meer is as die velkleur, maar fundamenteel die sosiale posisie, binne hierdie sisteem. Die inspan van 'bantustan chiefs' en die driekamer parliament, soos hy genoem het, het nie kollektief beteken dat apartheid ook (paradoksaal) die bruin, Indiër of swart mense sistematies wou bevoordeel nie. Ferdie moes dit tog geweet het, dat hierdie voorbeelde bloot nog 'n manier was om die inherente onregverdigheid van die sisteem te verdoesel, ten einde die magsposisie van die wit deel van die bevolking te bestendig.

Ek kan nie namens Kollapen praat nie, maar ek vermoed dit nie bloot gaan om 'n soeke na nog meer verbale verskonings en trane nie, eerder 'n bepaalde gesindheid wat beleef word in die saamstoei met die uitdagings van vandag- 'n gesindheid waar die regstelling van die verlede aanvaar word, waar daar saam hard en siel aan transformasie gewerk word, waar witmense beleef word as eg. Op die huidige oomblik word eerder beleef dat in alles fout gevind word, dat aan sekere voorrange en luukshede vasgeklou word ten alle koste en dat die nasiebouproses moedwillig ondermyn word. Een voorbeeld hiervan is die aandrang dat swart mense, ook nou moet jammer sê vir apartheid.
Post a Comment

Musings.....