Tuesday, December 04, 2007

Afrikaans en die heil van Bruinmense

'n Baie insigewende debat word gevoer in die Afrikaanse dagblaaie oor die vraag of daar 'n verband bestaan tussen bruin Afrikaansprekendes se armoede en die huidige stryd om Afrikaans se publieke plek. Richard van der Ross, eertydse rektor van UWK laat ook homself uit in sy bydrae in die Beeldforum (4 Des 2007). Uiteraard kom die debat al 'n lang pad en veral in Litnet en Die Vrye Afrikaan woed hierdie gesprek al 'n geruime tyd en spesifiek oor die vraag waarom dit lyk asof bruin Afrikaansprekendes nie so vurig stry vir die (onse)taal nie. Bekroonde bruin skrywer, Abraham Phillips, neem egter die strydbyl op vir Afrikaans in sy artikel, Die tragedie van Afrikaans en arm mense (Die Burger 20 Nov 2007). In 'n neutedop kla hy bruin intellektuele aan dat hulle nie in woord en daad opstaan teen wat hy noem die 'dooddruk en uitfasering van Afrikaans nie'. Met spesifieke verwysing na US (Stellenbosch Universiteit) en die SABC( die nasionale uitsaaier) is dit sy mening dat die uitfasering 'behoort dieselfde reaksie ontlok as die vergrype van Robert Mugabe'(!). Dit lyk asof Phillips van mening is dat, indien SA se bruin en wit intellektuele' daarteen veg en die stryd moontlik wen (en sodoende Afrikaans red), bruin en swart Afrikaanssprekendes , veral op die platteland en die Kaapse Vlakte, opgang sal maak. Andersom, indien daar nie gehoor gegee word nie, sal 'n katrastrofe volg.

Van der Ross stem saam dat die bruin intellektuele stil is... hulle monde is nog vol van eet... aan die vrug van hul struggle, ook aan kultuur het hulle in elk geval geen erg nie. Die geskiedenis het ons in elk geval geleer, so voer hy aan, dat die opinies van die armes nie tel nie en mag aan die kant van die owerhede en rykes lê. Hy argumenteer verder: "Al word en bly die US Afrikaans, en al word die SAUK (...) meer Afrikaans, sal dit bitter min doen aan die armoede onder die bruin mense. Die heil van die bruin mense sal, indien wel, geleidelik kom namate ons kinders opgeneem word in die ekonomiese vooruitgang van die land as geheel". T.o.v. Afrikaans voeg hy egter by: "Dit sal aangaan, hetsy op die Kaapse Vlakte, hetsy aan die US."

Miskien is Leopold Scholtz (Die Burger 29 Nov 2007) ten minste in hierdie opsig reg as hy in antwoord om van der Ross aanvoer, vanuit sy boekkennis, "In die algemeen is dit dikwels so dat 'n sosiaal-ekonomiese stryd agter 'n taalstryd tuisgaan". In sy aanhaling van grepe uit die geskiedenis van die Afrikaners se taalstryd, die Vlaamse stryd, de Tjegge asook,in sy woorde, die van die inheemse "Indiane", in Latyns Amerika, bied hy gronde aan vir sy punt dat die koloniste taal gebruik het om inheemse groepe uit te buit; dat daar dus wel 'n verband bestaan tussen armoede en taaldiskriminasie. Wat hy egter gerieflik weglaat, is die stuk geskiedenis van hoe Afrikaans self ontwikkel het as 'n taal van die verdrukker. Inderdaad, daar is 'n verband. Wat ons egter verder moet byvoeg is dat die heil nie noodwendig lê in die verabsolutering van die taal, Afrikaans soos ons dit vandag ken, as sodanig nie. Die ontwikkeling van Afrikaans ( en alle tale) geskied binne 'n bepaalde sosiale konteks, en een stroom het begin waar bruin slawe in die smeltkroes van Oosterse, Afrika en Europese kulture 'n nuwe verdrukte-kultuur ontwikkel het (teenoor die koloniale kultuur)- 'n kultuuurskat wat egter die laaste paar eeue voordurend gevorm is deur die konteks, in verskeie skakeringe. Die proses sal voortgaan hier in Afrika; net soos die voorgaande fermentering van Afrikaanse kultuur sal voortgaan in Engeland, Kanada en Perth, in Australië (en daar selfs ander name kry). Die elites en maghebbers sal ook voortgaan om hierdie lewendige gisting te wil beheer (naam te gee) en te wil inspan om hul ideologieë te verkoop, of om politieke mag vir hulself te mobiliseer en te behou. Die sleutel lê egter in die erkenning van hierdie selfbewuste hibriede identiteit (-e) waar Afrikaans onmiskenbaar 'n integrale deel is van die 'mix', verder waar ons heil opgesluit lê in die diepere waardes en hartsstories.. die breër kultuurskat wat voortleef en ons betrokkenheid en geleidelike opgang in die ekonomie, wetenskap en tegnologie dryf.
Post a Comment

Musings.....